Witvlei BV vier 100 jaar
Die feestelikhede van die Witvlei Boerevereniging se eeufeesviering skop op 15 April 2026 af.
Dit sal voorafgegaan word deur ’n dankseggingdiens in die Boerehuis, wat deur Biskop Frank Schütte van DELK waargeneem sal word. Die mees gepaste manier om dankie te sê vir 100 jaar se Hemelse seëninge.
Daarna sal ’n ligte middagete voorsien word, gevolg deur die 100ste algemene jaarvergadering en die aand gaan daar gesellig rondom die braaivleisvuur gekuier word.
Die hoogtepunt van die feesvieringe is op Saterdag 18 April; dan word daar ’n formele dinee met die tema “1926” in die Boerehuis aangebied.
Gassprekers tydens die dinee sluit in Oom Schalk Grobbelaar, Raimar von Hase en die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), Thinus Pretorius, wat ’n heildronk sal instel. ’n Veiling van ses uitgesoekte items sal ook gehou word.
Met aankoms sal elke gas ’n eksemplaar van die 100 jaar Gedenkalbum van die boerevereniging as geskenk ontvang. Die aand sal met ’n heerlike ete en dans afgesluit word. – Witvlei Boerevereniging


