NLU se Landbouvrou van die Jaar
Van links is Lorna Shikongo-Kuvare van Bokomo Namibia, Caroline Bührman, Landbouvrou van die Jaar 2025, en Thinus Pretorius, NLU-president. Foto Jacques du Toit

NLU se Landbouvrou van die Jaar

Caroline Bührmann is ’n uitsonderlike vrou en ’n waardige kandidaat vir die titel van Landbouvrou van die Jaar.

Sy was jare gelede aktief betrokke by grondhervorming en hervestiging namens die Namibië Landbou Unie (NLU) en haar onbaatsugtige bydrae tot die landbousektor strek oor dekades.

Sy boer tans op die plaas Nauzerus in die Windhoek-omgewing met ’n klein kudde Afrikanerkoeie en ’n Afrikanerbul, asook enkele Sussexkruisings wat sy ongelukkig weens die droogte moes verkoop. Die Sussexkruisings se speenkalwers word almal met groot sukses bemark.

Caroline boer ook met skape. Sy het ongeveer 600 Swartkop persiese ooie en sowat 30 ramme – ’n mengsel van selfgeteelde diere en diere wat op veilings aangekoop is. Tans het sy ongeveer 400 gespeende lammers, waarmee sy gereeld goeie pryse op veilings behaal.

Haar harde werk en toegewyde bestuur word beloon: Vir die afgelope twee jaar het sy met haar Sussex/Afrikaner-speenkalwers die Rehoboth Speenkalfkompetisie gewen – ’n prestasie waarop sy met reg trots kan wees.

Wat hierdie prestasies nog meer merkwaardig maak, is dat Caroline meer as 70 jaar jonk is en steeds voltyds en met passie boer. Sy is steeds betrokke by elke Nauchas Boerevereniging-vergadering en leef haar roeping as boer met oorgawe uit. Sommige naweke word sy ondersteun deur ’n jong man wat haar help met die praktiese werk met die diere, maar die daaglikse bestuur en werk hanteer sy steeds self.

Bührmann is nie net ’n boervrou nie, maar ook ’n inspirasie vir haar gemeenskap. Haar deursettingsvermoë, passie vir landbou en liefde vir haar diere maak van haar ’n besonderse mens.

– Voorgelees deur Roelie Venter, uitvoerende beampte van die NLU

Advertisments