Taaier en beter as ooit

Toyota Suid-Afrika het einde Junie 2026 die negende generasie van sy immergewilde Hilux in die asemrowende landskappe van Namibië bekend gestel – en ons was daar.

Ná sowat 1 000 km se vinnige ritte op sout- en grondpaaie was ons dit eens: die 2026 Hilux bied sonder twyfel die beste ritgehalte, hantering en verfyndheid wat enige van die vorige agt Hilux-generasies nog op hierdie tipe paaie kon lewer.

Die Hilux is nie net Toyota se grootste suksesverhaal in Suid-Afrika wat verkope betref nie; dit is reeds langer as ses dekades die vertroude werkesel van boere, sakelui, avontuurlustiges en veldry-entoesiaste. Min voertuie geniet dieselfde vlak van handelsmerklojaliteit as die Hilux.

Juis daarom was dit vir Toyota belangrik dat die negende generasie die behoeftes van ’n jonger, meer tegnologiegedrewe mark aanspreek, sonder om die eienskappe prys te gee waaraan Hilux-eienaars oor dekades geheg geraak het.

Die resultaat is ’n Hilux wat taaier, veiliger, meer verfynd en meer modern is as ooit tevore.

 

Ontwerp en voorkoms

Ons was bevoorreg om die Taiwanese hoofontwerper van die nuwe Hilux te ontmoet en tydens ’n aandete uitgebreid oor Toyota se nuwe ontwerpfilosofie te gesels.

Die konsep staan bekend as Cyber Sumo.

"Cyber" beklemtoon die groeiende rol van gevorderde tegnologie, konnektiwiteit en digitale integrasie in moderne mobiliteit, terwyl "Sumo" die stabiliteit, robuustheid en taaiheid simboliseer waarvoor die Hilux reeds dekades lank bekend is.

Die twee beginsels kombineer dus die Hilux se bewese betroubaarheid met ’n meer moderne, toekomsgerigte ontwerp.

Die vooraansig van die 2026 Hilux sluit aan by Toyota se jongste ontwerptaal, soos reeds op die nuwe RAV4 en Corolla Cross gesien is. Smaller LED-hoofligte en ’n breër, meer prominente sierrooster gee die voertuig ’n sterker en meer selfversekerde voorkoms.

Nuwe sierwielontwerpe, embleme en LED-ligte dra verder by tot die moderne styl.

Agter is daar nuwe LED-agterligte, ’n herontwerpte agterklap en ’n praktiese sytrap wat in die bak geïntegreer is. Die herontwerpte rolstaaf agter die kajuit beklemtoon die sportiewe karakter van die dubbelkajuit Legend-model.

 

’n Meer moderne kajuit

Die grootste transformasie van die nuwe Hilux vind egter binne die kajuit plaas.

Toyota het duidelik gefokus op beter ergonomie, gevorderde tegnologie en ’n merkbare verbetering in algemene gerief.

Die horisontale uitleg van die instrumentpaneel toon sterk ooreenkomste met dié van die jongste Land Cruiser Prado. Die ontwerp plaas die klem op gebruikersvriendelike bediening, uitstekende sigbaarheid en ’n gebalanseerde kombinasie van digitale skerms en fisiese skakelaars.

Die herontwerpte voorsitplekke bied uitstekende ondersteuning en is besonder gemaklik, selfs ná ure agter die stuur.

Sagter afwerkingsmateriaal vervang baie van die harde plastiek wat in die vorige model gebruik is, wat die kajuit ’n luukser en meer verfynde atmosfeer gee.

Praktiese bergplekke is verbeter, terwyl die bykomende USB-C-koppelpunte ’n welkome toevoeging is vir moderne gebruikers.

 

Tegnologie en veiligheid

Die Legend-topmodel waarmee ons tydens die bekendstelling gery het, bied onder meer ’n volledig digitale 12,3-duim-instrumentpaneel en ’n 12,3-duim-inligtingvermaak-raakskerm in die middel van die instrumentpaneel.

Die stelsel ondersteun koordlose slimfoonverbinding deur middel van Android Auto en Apple CarPlay, asook koordlose laai vir versoenbare toestelle.

Een van die grootste verbeterings in die negende-generasie Hilux is die uitgebreide digitale integrasie met die voertuig se ekostelsel deur middel van die Toyota Remote- en MyToyota-toepassings.

Hierdeur kan eienaars toegang verkry tot verskeie voertuigfunksies, onder meer om die voertuig se status op afstand te monitor, die voertuig te sluit of oop te sluit en dit makliker in groot parkeerareas op te spoor.

Die nuwe Hilux is ook die mees gevorderde Hilux nog wat veiligheid en bestuurderbystandstelsels betref.

Toyota se jongste Safety Sense 3.0-veiligheidsplatform bied ’n omvattende reeks aktiewe veiligheids- en bestuurshulpstelsels wat ontwerp is om insittendes beter te beskerm onder verskillende rytoestande.

 

Enjin en kraglewering

Toyota Suid-Afrika het die negende-generasie Hilux-reeks vereenvoudig en tydens die bekendstelling op vier modelle gefokus.

Al vier modelle word aangedryf deur Toyota se beproefde 2,8 GD-6-turbodieselenjin met vier silinders, wat 150 kW en 500 Nm se maksimum kraglewering lewer.

By al die bekendgestelde modelle word krag deur ’n agtgang-outomatiese ratkas na die wiele oorgedra.

Toyota Suid-Afrika het intussen bevestig dat ’n 2.4 GD-6-model met ’n sesgang-handratkas in beide agterwielaandrywing- en vierwielaandrywing-weergawes later by die reeks gevoeg sal word.

 

Paddinamika en hantering

Tydens ons gesprek met die Taiwanese projekingenieur het sy (ja, jy het reg gelees – die nuwe Hilux is in Taiwan ontwikkel en die hoofprojekingenieur is ’n vrou) verduidelik dat Toyota deur voortgesette navorsing sekere kritiek van eienaars van die vorige generasie Hilux oor kajuitgerief en verfyning ter harte geneem het.

Die ontwikkelingspan het dus daarop gefokus om die kajuit en ritgerief omvattend te verbeter, terwyl die vlak van moderne tegnologie verhoog is, sonder om die Hilux se bekende taaiheid, betroubaarheid en werkvermoë enigsins in te boet.

Toyota-ingenieurs het gevolglik omvattende verbeterings aan die nuwe Hilux se vering- en stuurstelsels aangebring en ook die monteerpunte verfyn. Spesifieke aandag is gegee aan hantering, dinamika en padgedrag, veral op grondpaaie – ’n belangrike aspek vir Suider-Afrika se rytoestande.

Danksy verbeterings aan die onderstel en veringstelsel, asook verfynde stuurkalibrasie met die fokus op presiese elektriese insette en terugvoer, was die resultate merkbaar beter.

Dit was nêrens meer duidelik as tydens die talle kilometers wat ons teen hoër as normale snelhede op die lang, swiepende sout- en grondpaaie van Namibië afgelê het nie.

Die nuwe Hilux se verbeterde stuurgevoel, uitstekende greep en stabiliteit deur los sand, oor ongelyke padoppervlaktes en deur soms onverwagte waterlope was nie bloot oortuigend nie – dit was ’n aangename en indrukwekkende openbaring.

Die Toyota-ingenieurs het ook die kajuitisolasie verbeter en beter monteerrubbers vir die enjin gebruik om vibrasie en geraasvlakke binne die kajuit te verminder.

 

Opsomming

Luukse bakkies is deesdae besonder duur, en klante verwag groter luuksheid, beter toerusting, slimmer en veiliger bestuurshulpstelsels, asook voertuie wat meer brandstofdoeltreffend is.

Ten spyte van kritiek dat die nuwe Hilux steeds deur ’n “vorige generasie”-enjin aangedryf word, voel en bestuur die negende generasie Hilux soos ’n heeltemal nuwe model.

Met omvattende verbeterings en moderne tegnologie, ’n praktiese maar luukser kajuit, asook indrukwekkende hantering en padinamika op grondpaaie, behou die 2026 Hilux steeds al die bewese eienskappe wat oor agt generasies aan hom ’n legendariese reputasie besorg het.

Na my ervaring in Namibië tydens die bekendstelling van die 2026 Toyota Hilux-dubbelkajuit is ek oortuig – ná meer as 50 jaar se ervaring met Hilux (en nee, ek besit nie die afgelope 25 jaar ’n Hilux nie, maar toetsbestuur gereeld een) – dat die negende-generasie Hilux die beste Hilux is wat ek nog bestuur het.

Dit is nie net ’n bakkie nie – dit is ’n Hilux.

 

Advertisments