’n Uitstekende alternatief vir die aanslag uit die Ooste

Die 7-sitplek-SNV-segment in Suid-Afrika is hoogs mededingend, met kopers wat toenemend luuksheid, tegnologie, goeie ritgehalte en lang waarborge verwag. Met die Destinator betree Mitsubishi Motors SA hierdie mark met ’n model wat op praktiese gebruik, ruimte en waarde fokus.

Die Destinator, wat in Maart 2026 plaaslik bekendgestel is, posisioneer hom bo die Outlander Sport en onder die vlagskip-Outlander. Die model word in Indonesië gebou en is spesifiek vir ontluikende markte, waaronder Suid-Afrika, ontwikkel.

 

Voorkoms en ontwerp

Die Destinator dra Mitsubishi se kenmerkende ontwerp-DNS, met hoekige LED-kopligte voor en moderne LED-ligte agter. Groot 18”-allooiwiele met 225/55-bande dra by tot ’n grondvryhoogte van 214 mm en versterk die model se robuuste voorkoms.

Met ’n lengte van 4 680 mm en ’n asafstand van 2 815 mm bied die Destinator genoeg ruimte vir sewe sitplekke oor drie rye.

Mitsubishi Motors SA bied die Destinator in twee afwerkingsvlakke aan, met die Exceed as die topmodel.

 

Kajuit en toerusting

Die Exceed se kajuit is ruim en modern, met ’n fokus op tegnologie en praktiese gebruik. ’n 8,0”-digitale instrumentpaneel word aangevul deur ’n 12,3”-aanraakskerm/inligtingstelsel met ondersteuning vir koordlose Apple CarPlay en Android Auto. Die Yamaha-klankstelsel lewer ook goeie klankgehalte.

Die kajuit beskik oor kunsleerbekleedsel en ’n panoramiese sondak. ’n 360-grade-kamerastelsel vergemaklik parkering, terwyl ’n 65-kleur-aanpasbare omgewingsbeligtingstelsel die kajuit saans ophelder.

Die tweede ry sitplekke kan skuif om toegang tot die derde ry te vergemaklik en kan met een hefboom platgeslaan word. Dit vergroot die bagasieruimte van 117 liter tot 1 930 liter.

Al drie rye beskik oor ventilasie en USB-laaipunte, wat die Destinator prakties maak vir langer gesinsritte.

Veiligheidstoerusting sluit ses lugsakke en ’n omvattende ADAS-stelsel in, met onder meer baanverlatingswaarskuwing en baanhouhulp, blindekolwaarskuwing en heuwelwegtrekhulp.

 

Enjin en kraglewering

Die Destinator word aangedryf deur ’n 1,5-liter-turbopetrolenjin wat 120 kW en 250 Nm lewer. Krag word deur ’n CVT-ratkas na die voorwiele oorgedra.

Hoewel die Destinator hoofsaaklik as ’n toer-SNV bedoel is, kan dit volgens Mitsubishi van 0 tot 100 km/u in 8,9 sekondes versnel.

Die 45-liter-brandstoftenk is relatief klein, maar die amptelike brandstofverbruik van 7,2 l/100 km is mededingend. Tydens ons toets van meer as 1 200 km het die Destinator gemiddeld 8,5 l/100 km verbruik, ondanks die gereelde gebruik met vyf volwassenes aan boord.

 

Padindrukke en hantering

Die Destinator het veral met sy ritgehalte beïndruk. Die vering, bestaande uit MacPherson-stutte voor en ’n wringstaaf agter, is op gemak ingestel en absorbeer ongelyke padoppervlaktes goed.

Hoewel dit nie as ’n dinamiese verrigtings-SNV ontwerp is nie, hanteer die Destinator draaie en harde remming met selfvertroue, terwyl die CVT die enjin se wringkrag teen lae toere doeltreffend benut.

Die 214 mm-grondvryhoogte is ook nuttig op grondpaaie. Ondanks die voorwielaandrywing kon die Destinator met selfvertroue oor sanderige grondpadswiepe bestuur word, met die vastrapbeheerstelsel wat ’n belangrike rol gespeel het.

 

Opsomming

Die Destinator se sterk punte lê in sy gemaklike rit, ruim en veelsydige kajuit, moderne tegnologie en praktiese ontwerp. Die kombinasie van sewe sitplekke, ’n groot laairuimte wanneer die sitplekke platgeslaan word, goeie veiligheidstoerusting en redelike brandstofverbruik maak dit ’n veelsydige gesins-SNV.

Die klein brandstoftenk is een van sy min praktiese tekortkominge. Oor die algemeen bied die Destinator egter ’n sterk pakket vir kopers wat ’n 7-sitplek-SNV soek en bereid is om alternatiewe tot die oorheersende Chinese aanbod te oorweeg.

Advertisments