Veediefstal vier hoogty
Veediefstal het 'n erge impak op landelike gemeenskappe. Foto Argief

Veediefstal vier hoogty

Veediefstal vier hoogty in Namibië, wat aansienlike ekonomiese, maatskaplike en veiligheidsuitdagings vir landelike gemeenskappe en die landbousektor inhou. Pogings om misdadigers af te skrik blyk egter ondoeltreffend te wees.

Dit is die mening van die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor grondwetlike en regsake, Kletus Karondo, toe hy die komitee se mosie oor die verslag oor die impak van veediefstal in Namibië, in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê het.

Die mosie is na die komitee verwys vir verdere oorweging en ondersoek. Die komitee het ’n beroep op die NV gedoen om die dringende kwessie van veediefstal in Namibiese gemeenskappe te takel.

Die verslag beklemtoon polisiestatistieke wat toon dat meer as N$123 000 se vee tussen Mei 2021 en April 2023 oraloor Namibië gesteel is.

“Veediefstal is steeds ’n voortdurende kwessie in Namibië, wat beide kommersiële, kommunale en hervestigingsplase raak. Die probleem is diep gewortel in die sosioëkonomiese omstandighede van ons mense, alhoewel dit skynbaar sindikate is wat werksaam is,” het Karondo beklemtoon.

Die hoogste voorkoms van veediefstal is in die streke van Otjozondjupa en Omaheke aangeteken.



DRINGENDE OPTREDE NODIG

Karondo het gesê die verslag beklemtoon die ernstige impak van veediefstal op Namibiese gemeenskappe en die behoefte aan ’n omvattende benadering om die kwessie te takel.

Dit sluit in die versterking van die wetgewende raamwerk, die verbetering van wetstoepassingskapasiteit, die bevordering van gemeenskapsbetrokkenheid en die benutting van tegnologie, met die klem op die behoefte aan breër regulatoriese benaderings.

Hierdie benaderings moet selfregulering, verbeterde regulering en strenger beheer van vee-identifikasie deur NamLITS insluit, asook die doeltreffender bestuur van dierebewegings.

Karondo het gesê hoewel die veediefstalwet verskeie kere gewysig is om die parlement se voortdurende pogings om hierdie misdade aan te spreek, te weerspieël, lyk sulke wysigings ondoeltreffend om misdadigers af te skrik om die misdaad te pleeg.

Hy het gesê die komitee se verslag bevat aanbevelings wat daarop gemik is om Namibiese boere te help om die nodige maatreëls óf individueel óf gesamentlik met ander belanghebbendes te implementeer.

– ellanie@nmh-hub.com.na

Advertisments