Kwessie van in situ-loging van agenda verwyder
Die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) bevraagteken waarom die kwessie van in situ-loging in die Stampriet artesiese kom (SAB) van die agenda van die Namibië Streekwatersimposium in Keetmanshoop verwyder is
Sauma sê die grootste deel van landelike Namibië is afhanklik van ondergrondse water vir drinkwater en landboubedrywighede.
“Selfs dorpe soos Tsumeb, Kombat, Outjo, Otjiwarongo en dié in die Stampriet artesiese kom soos Leonardville, Aranos, Aminuis, Stampriet, Gochas en Koës bestaan net as gevolg van die ondergrondse water,” sê Sauma in ’n verklaring.
“Groot hoeveelhede ondergrondse water in die kom word vir besproeiing gebruik om die nasie te help voed.”
Sauma sê die regering het besef hoe kritiek grondwater is en het die kom ’n wetgewende waterbeskermingsgebied gemaak.
“Tog, by die onlangse Namibië Streekwatersimposium wat in Februarie in Keetmanshoop gehou is, is die agenda uitgewys en is die item wat die beplande in situ-loging van uraan in die hoofakwifer vir die SAB bespreek, verwyder,” lui die verklaring.
“Mense wat die konferensie bygewoon het, het herhaaldelik hul afkeur uitgespreek, maar die onderwerp is nie vir bespreking toegelaat nie. Hoekom is die onderwerp verwyder?” vra Sauma.
“Die verantwoordelikheid vir die veiligheid van die drinkwater lê nie net by besorgde individue, boere en organisasies nie. Dit lê hoofsaaklik by diegene wat wetgewing maak en administreer, dit wil sê die regering, spesifiek die ministeries van landbou, water en grondhervorming; die omgewing, bosbou en toerisme; myne en energie; gesondheid en maatskaplike dienste en senior regeringsbesluitnemers,” pleit Sauma.
Die vereniging sê vir meer as drie jaar waarsku Sauma gereeld die publiek en die regering oor die massiewe besoedeling wat die voorgestelde in situ-loging van uraan aan die drinkwaterakwifers in die kom inhou: “Tog bly geskrewe vrae oor hierdie aangeleentheid en appèlle teen reeds uitgereikte omgewingsklaringsertifikate aan die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme onbeantwoord.”
Na aanleiding van ’n hoëvlak-vergadering oor die voorgestelde in situ-loging van uraan in die Stamprietkom wat op 17 Junie 2024 naby Mariental gehou is, is verslae oor die onderwerp deur internasionale kenners saamgestel.
Ten spyte van talle versoeke is hierdie verslae volgens Sauma nie aan hulle beskikbaar gestel nie.
“Volgens die omgewingskommissaris behoort meer studies onderneem te word om die implikasies van mynbou te verstaan. Watter studies is onderneem? Wat is die resultate hiervan?” vra Sauma
’n Interministeriële komitee wat deur die eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila geïnisieer is, is volgens Sauma getaak om die voorgestelde mynbou te ondersoek en ’n aanbeveling aan die kabinet te maak.
“Wat is die aanbevelings van hierdie komitee?” vra Sauma.
Die vereniging sê die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne het by meer as een geleentheid met Sauma en die Russiese maatskappy Headspring Investments vergader.
“Het die staande komitee hul bevindinge ingedien? Wat is hierdie?” vra Sauma.
“Die SAB strek tot in Botswana en Suid-Afrika waar dieselfde akwifers drinkwater verskaf. Albei buurlande het groot kommer uitgespreek as sulke mynbou in Namibië sou voortgaan.”
Sauma sê die vereniging sien uit daarna om terugvoering van die regering te ontvang in belang van deursigtigheid en openbare veiligheid.
Sauma gaan ’n aanbieding oor die impak van uraanontginning op die land se ondergrondse water in die Stamprietkom op 26 Maart om 18:00 by The Village in Liliencronstraat in Windhoek aanbied. Sauma is deur die 29’ers uitgenooi. Geen registrasie of besprekings is nodig om die geleentheid by te woon nie en dit is gratis vir almal.
– francoise@nmh.com.na